NG Gemeente

Geskiedenis
Tot aan die einde van 1974 was Hazyview 'n wyk van die Witrivier gemeente.

Skukuza was ook 'n wyk van Witrivier en die twee wyke was om die beurt bedien deur twee leraars van die NG Gemeente Witrivier.

Op daardie tydstip het die Hazyview wyke in die kerksaaltjie op Kiepersol, wat 120 mense kon akkommodeer, kerk gehou.

Gedurende 1973 het die gedagte ontstaan om die moontlikeid van afstigting te ondersoek. 'n Peiling is onder die 351 lidmate gehou en die utslag was soos volg: 314 ten gunste van afstigting, 12 daarteen en 25 onseker.

In Desember 1973 word die voorneme van afstigting, tesame met die uitslag van die peiling aan die kerkraad van Witrivier voorgelê, vergesel van 'n amptelike versoek tot afstigting.

Die kerkraad van Witrivier het die versoek goedgekeur en op 14 Januarie 1974, tydens 'n buitengewone vergadering van die Ring van Barberton, word die aansoek goedgekeur en word toestemming verleen om voort te gaan met afstigting.

Op 13 Februarie 1975 vergader die Ringskommissie saam met lidmate van die te stigte nuwe gemeente. Die gemeente word gestig en daar word dadelik kerkraadslede uit die teenwoordiges gekies. Op daardie geskiedkundige dag word ook besluit om die naam "Hazyview-Skukuza" aan te neem as ons nuwe gemeente naam.

Die gekose kerkraadslede is op Saterdag 15 Februarie 1975 tydens die voorbereidingsdiens te Skukuza in hulle ampte aangestel. Na die diens, tydends die gemeente se eerste kerkraadsvergadering, word ds. Hercules van den Berg beroep as leraar van ons nuwe gemeente. Hy aanvaar die beroep en word op 16 Maart 1975 bevestig as leraar van ons gemeente. Hy lewer op daardie dag sy nooiens intreepreek en preek uit Johannes 3:16. Ds. Van den Berg het om die beurt oggend en aanddienste gehou in Skukuza en in Hazyview.

As bruidskat het die nuwe gemeente twee vaste eiendomme van Witrivier gemeente ontvang. Die een, waarin die Hazyview mense kerk gehou het, was die saaltjie op Kiepersol wat op een hektaar grond gestaan het en die ander was 'n volwaardige kerkgebou op Skukuza. Daar is ook 'n kontantbedrag van R20 000.00 aan die nuwe gemeente geskenk. In 1975 was dit 'n groot geskenk!

Verwikkelinge en ontwikkeling in die breë Hazyview gemeenskap was op daardie stadium ook nie staties nie maar wel baie dinamies. Dit was omtrent daardie tyd toe die Hazyview en Kiepersolboere werklik begin voortuitstrewend raak het, en, toe Hazyview Dorp begin ontwikkel het vanaf 'n gehuggie tot waar dit vandag is.

So het dit dan gebeur dat die kerksaaltjie op Kiepersol moes plek maak vir 'n nuwe moderne Koöperasie en Boerevereninging gebou. Die grond en die kerksaal is in 'n ruiltransaksie met die Boerevereniging verruil vir die grond waar ons kerkgebou vandag staan.

Van kort ná die stigting van ons nuwe gemeente het ons begin om ons eredienste en Sondagskool en kategese klasse in die skoolsaal en klaskamers van Numbi Laerskool te hou. Die "konsistorie" was onder die Grysappel en Kiaat bome langs die skoolsaal. Numbi Laerskool was toe waar die huidige polisiestasie vandag staan.

Al die klaskamers en ook die saal het bestaan uit asbesgeboue. Dit was soms so warm in daardie saal, dat ds. Van Den Berg twee sakdoeke nodig gehad het om sy gesig en sy bril droog te hou en jy kon die tande hoor kners onder die lidmate.

Hier het ons vir agt jaar lank in dankbaarheid en tevredenheid die Here aanbid en geleer van Sy genade.

Intussen het ds. Hercules en die lidmate baie hard gewerk aan die gedagte, en die uitvoering daarvan, om eerstens 'n pastorie en dan ook ons eie kergebou op te rig.

Gedurende Oktober van 1976, twintig maande na die stigting van ons nuwe gemeente, word die nuwe pastorie teen 'n koste van R45 000.00 voltooi en trek ds. Hercules en sy gesin daarheen. (Teen vandag se boukoste sal so 'n woning ongeveer DRIE MILJOEN RAND kos).

Toe, na agt jaar se fondsinsameling en beplanning en uiteindelike bouwerk, tydens 'n feestelike erediens, wy ons gemeente ons kerk in.

Die datum is 4 September 1983. Die kerkkompleks is teen 'n koste van R380 000.00 opgerig. Dit het die orrel ingesluit! (vandag sal hierdie kerk en gemeenskaplkke geboue seker SES MILJOEN RAND KOS).

Ons gemeente was só geseënd dat ons al hierdie bouwerk, die pastorie sowel as die kerk, kontant kon bou.

Net soos Hazyview se gemeente, het die tyd ook aangebreek vir Skukuza om af te stig. Op daardie stadium het hulle 'n lidmaattal van ongeveer 210 gehad, en het die begeerte uit gespreek om onafhanklik te funksioneer.

In 1986 word die nuwe gemeente Krugerwildtuin gestig. Hazyviewgemeente het aan hulle R60 000.00 plus die bestaande kerkgebou geskenk.

Na 22 vrugtevolle jare in die bediening in Hazyview Gemeente, en in wellewendheid, lewer ds. Hercules van den Berg op 30 Junie 1996 sy aftreepreek.

Op 1 Desember 1996 word ds. Tewie Willemse in ons kerk bevestig as ons nuwe leraar. Voor sy diensaanvaarding by ons, was ds. Tewie die leraar in die Memelgemeente in die Vrystaat. Hy is in diens van ons gemeente tot 30 Junie 2008 wanneer hy sy laaste preek lewer.

Die Gemeente se derde leraar, ds. Amos Kotze, word beroep vanaf die Kestell gemeente. Op 12 Januarie 2009 word hy in ons gemeente bevestig. Ds. Amos bearbei ons gemeente tot en met 21 Julie 2013, waarna hulle na Kroonstad verhuis om diens te aanvaar in die Kroonstad Moeder Gemeente.

Ds. Sterns Pretorius en sy gesin word in ons gemeente ontvang op 1 September 2013. Ds Sterns was tot op daardie stadium die leraar van die NG Gemeente Rustenburg Suid.

Vroeg in 2024 beroep ons, ons eerste Diensleraar, Ds. Ingrid Joubert wat tans saam met Ds. Sterns ons gemeente bedien.
Kopiereg © 2025 NG Gemeente Hazyview  |  Met Trots Ontwerp Deur Design Insight
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram